Die ANC se dilemma – Ace Magashule vs Cyril Ramaphosa

Die ANC se nasionale uitvoerende raad sit met een hengse kopseer. Daar sal onaangename gevolge wees – ongeag wat hulle besluit of nie…

Laat ek probeer verduidelik, vanuit my eenvoudige plattelandse perspektief.

Aan die een kant het jy die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, wat van korrupsie aangekla word. Aan die ander kant het ons die president, wat beskuldig is van onreelmatighede tydens sy verkiesingsveldtog.

Maar dis nie al nie.

Aan die een kant het ons ook die feit dat die ANC se NUR reeds ‘n besluit geneem het – dat diegene wat aangekla word van korrupsie, eenkant toe moet staan solank as hul hofsake (of vonnisse) aan die gang is. Maar aan die ander kant is daar ook die feit dat – soos Jesse Duarte tereg gese het – mense al aangekla is, hul poste ontruim het, en daarna onskuldig bevind is.

Maar dis ook nie al nie.

Aan die een kant is daar die feit dat die ANC moet dink aan hul kiesers, en atter impak enige besluit op hul vetoning in die volgende verkiesing sal he. Aan die ander kant is daar ‘n groot persentasie van die ANC se NUR wat bankvas agter hul sekreteris-generaal staan, en eis dat die president ook oet gaa indien Magashule moet gaan.

En ons is nie seker hoe groot daardie ondersteunings-basis van Magashule is nie.

En dan is daar die laaste vlieg in die salf…

Die ANC se topbestuur het verskeie regs-opinies ingewin oor of die NUR se besluit afdwingbaar is al dan nie, en die regs-menings verskil.

So…

Waar los dit die ANC?

Wel, kom ons kyk na die opsies:

Opsie 1: Ace Magashule word gedwing om eenkant toe te staan.

Die gevolg?

Daar sal bes moontlik hofsake volg. En indien die besluit gehandhaaf word, kan dit beteken dat hy en/of ‘n klomp van sy volgelinge wegbreek en hul eie party stig.

Opsie 2: Ace Magashule se ondersteuning in die NUR is te sterk om hom te verwyder.

Die gevolg?

Die ANC se lede op grondvlak verloor vertroue in hul topbestuur. Dit kan veroorsaak dat die ANC baie steme verloor in die volgende verkiesing.

Opsie 3 (toegegee, dis onaarskynlik): Ramaphosa bedank uit sy pos om Magashule te dwing om te bedank.

Die gevolg?

Teoreties gesproke is dit die beste uitkoms vir die ANC – maar is dit die beste uitkoms vir die land? Ons weet die huidige president is ‘n sakeman, en verstaan die ekonomie se groter prentjie. Ons weet nie of Mabuza (waarskynlik die volgende president) in staat sal wees om die ekonomie te lees soos Ramaphosa nie…

En dinge is moeilik genoeg soos dit is.

Dit kan natuurlik ook ontplof en die ANC in chaos dompel as ondersteners vanaf altwee kante amok maak.

Opsie 4 (die mees waarskynlike opsie): Die NUR kan nie tot ‘n besluit kom in die toegelate tyd nie.

Die gevolg?

Groot skade by die stembus – want die kiesers sal sien dat die ANC se “self-korreksie” stelsel nie werk nie. En dat hulle – uit die oogpunt van die man op straat – korrupsie “goedkeur”.

Maar hier is die gatslag…

Die ANC se probleem is ook ons probleem.

Want…

As mense ophou om vir die ANC te stem, waarheen gaan hulle volgende?

‘n Klein persentasie sal seker vir die DA and ander kleiner partye gaan stem. Maar die oorgrote meerderheid sal waarskynlik vir die EFF stem.

Per slot van sake is die EFF baie uitgesproke teen korrupsie, en verskeie van die ANC se huidige beleidsrigtings is oorgeneem van die EFF. So vir die wat wegbreek van die ANC, maar nie na die politieke middelveld toe wil beweeg nie, is dit seker die mees logiese keuse.

Maar die finale gevolgtrekking is dit:

Maak nie saak wat by die NUR vergadering gebeur (of nie gebeur) nie…

Die ANC sal die gevolge dra.

Opdatering, 23:00 op 8 Desember 2020:

Magashule het aangebied om voor die ANC se integriteits-kommissie te verskyn. Daarna sal die topbestuur deur die aanbevelings werk, en trugvoering gee aan die NUR. As mens in ag neem hoe lank dit sal neem voor die volgende NUR vergadering plaasvind, beteken dit dat die probleem bloot uitgestel is.

Laat ons maar kyk wat gebeur.

Deel asb met u vriende: