Die unies wil SAL breek, maar vergeet iets veel groter…

Die unies het so gewoond geraak daaraan dat die regering maat net bly betaal, dat hulle nie omgee of hulle enige staats-beheerde maaskappy breek deur stakings nie. Hul eise is nie onderhandelbaar nie…

Aan die een kant kan mens verstaan hoekom die werkers omgekrap is. Per slot van sake is dit hulle wat nou die prys moet betaal (grootskaalse personeel-verminderings) vir topbestuur se foute.

Aan die ander kant kan mens nie help om te wonder wat gaan gebeur as die regering weier om verder hulp te verleen nie…

Die feit dat SAL ‘n groot hoeveelheid werknemers wil verminder, is reeds ‘n aanduiding dat hulle nie meer goedsmoeds geld van die regering kry nie, en daadwerklike stappe moet neem om die boeke te laat klop.

Maar dit lyk nie asof die unies enige oorweging gee aan wat kan verkeerd loop nie.

Ek dink maar terug aan wat met ‘n vriend van my se familie gebeur het…

Hulle het ‘n klein myn besit – seker so twintig jaar gelede. Die unie het besluit hul aanbod vir verhogings was nie goed genoeg nie, en het gestaak…

Een maand later het die myn sy deure toegemaak. En ja, die eienaars (die hele familie) is finansieel vernietig – maar almal wat op die myn gewerk het, het ook hul inkomste verloor.

Aan die een kant is dit goed as unies opstaan vir die werkers – want daar is wel ondernemings wat werklik hul werksmense so min as moontlik betaal. Of so min as waarmee hulle kan wegkom.

Maar aan die ander kant is daar erger dinge wat aan die gebeur is…

En die unies is doodstil.

EK praat van werkgewers – insluitende verskeie munisipaliteite – wat NIE WERKNEMERS SE PENSIOEN BYDRAES OORBETAAL AAN DIE PENSIOEN FONDSE NIE.

https://www.fin24.com/Money/Retirement/disturbing-failure-by-employers-to-pay-pension-fund-contributions-report-20191110-2

Dis laag. Baie, baie laag. En dit gaan al vir JARE lank so aan.

Ek kan nog verstaan as party stadsrade nie geld het om vir krag en water te betaal nie – maar pensioen-bydraes?

Dis mense se TOEKOMS.

Dink net – jy werk jouself simpel, vir baie jare, met die wete dat jy ok sal wees wanneer jy uiteindelik aftree.

Maar dan…

Wanneer jy aftree, vind jy uit dat jou werkgewer vir verskeie jare nie jou/hul pensioen bydraes oorbetaal het nie…

Jy is 65. Dis nie asof jy weer van voor af kan begin nie. En op daardie ouderdom is daar nie veel mense wat jou sal werk gee nie.

Maar wat nog erger is as hierdie skending van menseregte…

Is die unies se stilswye.

Ek sou dink dat, sodra dit die nuusblaaie getref het, die unies op die oorlogspad sou wees. Per slot van sake is dit HUL werkers wat so erg inedoen word.

Maar…

Dis doodstil. Sover ek kan sien, in elk geval.

Nou kom die vraag by my op:

Is die mense wat so ingedoen word, en wat ook lede van unies is…

Hoekom word daar niks aan gedoen nie? Hoekom is daar nie landswye stakings nie? Hoekom het niemand eers ‘n persverklaring uitgereik om dit te veroordeel nie?

Of voel hulle dat dit nie dringend genoeg is nie? Per slot van sake het daai mense mos reeds werk – dis mos “net hul oudag” wat in die gedrang is.

Dit laat mens wonder of die unies werklik daar is vir hul lede – en of hul leiers ook maar net daar is vir mag en geld.