Gesinsgeweld: Die president het ‘n plan, maar…

Die president het gister sy plan vir geweld teen vroue bekendgemaak – en om eerlik te wees, dit klink nie te sleg nie. Vir een keer in ons 25-jaar oue demokrasie het die land se leierskap opgestaan en die leiding geneem.

Jy kan die hele plan hier lees:

https://www.news24.com/SouthAfrica/News/ramaphosas-5-point-emergency-plan-to-tackle-gender-based-violence-20190919

Persoonlik sou ek graag nog ‘n paar dinge by die plan wou sien:

(idees uit kere wat ek self skouers gevryf het met vroueslaners in die verlede)

1. Magtig die polisie om self ‘n saak te open as die slagoffer dit nie wil doen nie. Baie slagoffers is so emosioneel afgebreek dat hulle nie in staat is om dit self deur te voer nie, en trek die saak uiteindelik terug.

2. Magtig die polisie om die huis ongevraagd binne te gaan om die vrou te ondersteun, selfs ook na die tyd. ‘n Vrou wat ek ken wat aangerand was, se man het byvoorbeeld geweier dat sy hul baba se bottel/doeke en klere uit die huis verwyder om na ‘n veilige plek te gaan.

Die polisie kon niks doen nie – want op daardie stadium was die gevaar verby, en die probleem is gesien as “siviel van aard”. Nodeloos om te se, die man se slenter het gewerk, en sy is uiteindelik terug na hom toe.

Ek weet nie of die polisie op die dorp net te lui was om hul werk te doen nie, en of hul hande werklik vas was weens wetgewing nie.

Die uiteinde was dat die polisie basies niks vir haar kon doen nie. En by die plek van veiligheid is sy nou ook nie juis baie vriendelik behandel nie.

3. Herhaalde oortreders moet toegang tot hul kinders verloor – vir altyd. En as die vrou na hom toe wil teruggaan, moet haar kinders weggeneem word. Dis omdat kinders grootword in sulke omstandigdhede dat die kultuur bly voortbestaan.

4. Ek weet dit sal seker nooit in ons land gebeur nie (want kriminele het hier mos meer regte as wetsgehoorsame burgers), maar in die ou dae het mans lyfstraf gekry vir “kleiner oortredings”. Hulle is uitgetrek en vasgemaak op ‘n rak. Daar was ‘n dokter teenwoordig, en die vonnis was net vier of ses houe – maar goeie houe.

Indien hierdie straf teruggebring word vir gesinsgeweld, kan die man nog steeds werk en inkomste genereer.

5. Net soos seksuele misdadigers, moet daar ‘n register wees vir mans wat skuldig bevind is aan gesinsgeweld. Miskien ook vir mense wat aangekla is, en die sake later teruggetrek is. As dit herhaaldelik gebeur, is dit ‘n indikasie dat die geweld wel plaasvind, maar die vrou voer nie die vervolgins deur nie.

As daai inligting openbaar is, kan die baie vroue baie pyn spaar – voor hulle onbewustelik met die verkeerde man deurmekaar raak.

Om terug te kom na die president se plan…

Ek kan sien hoe die plan baie positiewe dinge kan bewerkstellig. Van dit kan dalk tyd neem om ‘n impak te wys, maar daai fasette van die plan os ook nodig.

Dit gaan alles net afhang van hoe goed dit uitgevoer word. Die tyd sal ons leer – maar ek duim vas.

Ons kan nie so aangaan nie.