HOP-huis-moles in velddrif: Tyd vir ‘n “reality check”?

Die “Republiek van Velddrif” soos die inwoners dit graag noem, is ‘n vreedsame plek. Of so het ek geglo. Dis ‘n klein kus-dorpie wat grotendeels van visserye en toerisme afhanklik is.

Nou hoor ek die hel was gister behoorlik los in die “mis-kolletjie op die landkaart” – soos my ma skertsend na dit verwys (sy is daar gebore).

https://www.news24.com/SouthAfrica/News/west-coast-town-rocked-by-housing-allocation-protests-20191015

Die spesifieke situasie het homself seker al baie kere herhaal regoor ons land.

(mense wat – op die dag wanneer hulle finaal huise sou kry – uitvind hulle “kwalifiseer nie”. Ek kan my die teleurstelling indink.)

Maar…

Is die protes-aksie dalk weens ‘n regering wat uit voeling is met die mense, en die hedendaagse realiteite?

Laat ek verduidelik:

Volgens die burgemeester “kwalifiseer” jy nie vir ‘n HOP-huis as jy (a) meer as R3500 per maand verdien, of (b) geen afhanklikes het nie.

Ek kan verstaan dat daar ‘n inkomste-afsnypunt moet wees. Maar dan moet daar ook bekostigbare behuising wees vir diegene wat net-net meer as dit verdien.

Maar my probleem strek effe verder…

Die kwessie van “jy moet afhanklikes he” om te kwalifiseer vir ‘n HOP-huis.

So…

Wat gebeur met ouer mense wie se kinders groot is en goed aangaan? Hulle het nie meer afhanklikes nie. Maar ek weet ook daar is baie gevalle waar die kinders nie die ouer/s kan akkommodeer nie, en die ouers ‘n sukkelbestaan voer.

Waar moet daai mense heen gaan?

In baie ander gevalle voer die kinders ‘n sukkel-bestaan. Hulle is nie amptelik afhanklik van hul ouers nie, maar indien almal saam in een HOP-huis kon intrek, sou dit almal se lewens makliker maak.

Maar nou moet die ouers huur betaal vir ‘n kamertjie, terwyl die kinders elders aan-sukkel.

Persoonlik is ek nie mal oor die idee dat alles vir mense gegee moet word nie, maar die realiteite is dit:

1. Ons sit met baie mense vir wie daar nie werk is nie – so hulle kan nie “werk vir wat hulle wil he” nie.

2. Ons sit met baie mense wat hul hele lewe deur’n sukkelbestaan gevoer het, meestal weens gebrek aan vaardighede en baie lae inkomste, en hulle is nou ‘n geldelike las op ander.

Dis waar ons is – of ons daarvan hou of nie. Die vraag is hoe ons dit gaan hanteer.

So…

Die klem moet dalk nie meer geplaas word op “afhanklikes” nie…

Maar eerder op moontlike “inter-afhanklikheid”.

Want dit is waar baie families, en veral ouer mense, hulself nou bevind. Mense van alle rasse in die land.