Kriminele maak dit moeiliker vir die armes

Ek weet die meeste kriminele gee nie ‘n duiwel om nie…

Maar die gevolge van hul misdade strek baie verder as net die slagoffers.

1. As misdaad erg vermeerder in ‘n area, trek mense weg. Dis hoekom ek in ‘n klein dorpie bly. Ek het gatvol geword van mense wat bo die wet lewe in die stad.

Aan die een kant beteken dit huispryse val. Aan die ander kant beteken dit ook dat daar minder geld im omploop is in daardie area se ekonomie, wat dit moeiliker maak vir besighede.

Dus – meer misdaad = minder werksgeleenthede.

2. Meer misdaad beteken dat al hoe meer mense meer geld moet spandeer op versekering en sekuriteit.

Dus – minder geld om informele werknemers te betaal = minder werksgeleenthede in die huis en tuin.

Plus – die verhoogde risiko beteken dat meer mense eerder tuindienste sal gebruik as om iemand van die straat af te huur en kos op sy tafel te sit.

Dus = nog minder werksgeleenthede.

3. Dis misdaad teen uitlanders is lankal ‘n probleem – maar die onlangse gewelddadigheid maak dit ‘n baie groter probleem. Om beroof of besteel te word is een ding, maar om moord en verkragting in die gesig te staar ter wille van ‘n vakansie…

Daar is baie ander, veiliger plekke in die wereld waar toeriste hul geld kan gaan spandeer.

Maar minder toeriste beteken minder geld in omloop in die ekonomie van die area waarheen hulle sou kom.

Dus = minder potensiaal vir werksgeleenthede.

Ironies genoeg is dit juis in die arm dele van die land waar toeriste die nodigste is. Byvoorbeeld in Mpumalanga – wat ‘n arm provinsie is, maar beskik oor ongelooflike natuurskoon.

In ons tyd van Facebook, Twitter, Whatsapp groepe en so meer…

Hoeveel mense in die buiteland weet op hierdie oomblik reeds dat dit gebeur het? En dat ons land nie net onveilig is vir toeriste nie, maar wel gevaarlik?

Ons praat nie eers van die feit dat dit wantroue veroorsaak tussen bevolkingsgroepe nie.

En ons praat nie eers oor die feit dat ergere geweld op vroue al hoe meer alledaags word nie. Dis ‘n onderwerp vir ‘n heel ander gesprek.

Maar die krimineel is nie gepla nie. Hy gee nie eers om dat daar in die toekoms al hoe minder mense sal wees om van te steel nie. Of dat hy al hoe meer kompetisie sal he van nuwe kriminele wat deur sy eie kortsigtigheid – en hul desperaatheid – toegevoeg is tot die groeiende hoeveelheid kriminele in die land nie.

Maar aan die ander kant, dis seker hoekom hy ‘n professionele krimineel is.

Hy dink net aan homself – vandag.

Alle gevolge is irrelevant.

Deel asb met u vriende: