Mens sou sweer Maimane WAS die DA – soos kritici praat

Toegegee, daar het baie dinge in die DA gebeur – in bestek van ‘n baie kort tydjie…

Met Helen Zille se terugkeer was daar verreikende gevolge. En daar is seker nog ander wat ongelukkig is, en dalk nog sal kies om te gaan.

Maar…

As mens kyk na die kritici se uitlatings in die nuus, blyk dit dat verskeie van hulle dink die DA se dae is getel.

Wel…

As Madiba (toe hy nog gelewe het) moes wegstap van die ANC af, sou ek se ja, nou het hulle probleme.

Maar Maimane is nie die ikoon waarom die DA gebou is nie.

Die DA het heel goed aangegaan voor sy leierskap, en my “dutchman logic” (soos my emgelse weermagmaats daarna verwys het) se vir my dat die DA nog lank daar sal wees.

Ek mag verkeerd wees, maar van wat ek gesien het is die DA groter as enige enkele persoon.

Soos Zille dit stel – dit gaan oor “politieke terein” (of “political space” soos sy in engels na dit verwys). Die DA is geskoei op ‘n stel waardes – nie op “fashionable politics” nie.

As ek my gebroke terminologie mag verduidelik…

“Fashionable politics” beteken die gier om agter nuwe goed aan te hardloop. Soos die DA onder Maimane se leierskap begin kyk het na BEE. En “white privilege”. En “restitution”.

Een party begin met iets, ander partye sien dit help hulle om stemme te werf, en dan begin die partye ook die ander party se standpunte inneem – in die hoop om meer stemme te werf.

Soos toe die ANC die EFF se idee van grondhervorming sonder vergoeding geneem het, en self toegepas het – om seker te maak hulle verloor nie stemme nie.

Dis nie heeltemal “populisme” nie – eerder “navolgers van populisme”.

Maar as mens kyk na dit wat Maimane na vore wou bring, is dit geen verrassing nie. Hy was per slot van sake ‘n stoere ANC ondersteuner voor hy by die DA aangesluit het.

As mens kyk na hoe vinnig hy opgang gemaak het, kan mens maar net wonder of daar dalk vir hom ‘n wortel voor die neus gehou is om hom weg te rokkel van sy ANC standpunt.

En dit mag dalk ook verklaar hoekom hy – in die laaste paar jaar – soveel van die ANC se ideologie in die party wou inbring.

En dit verklaar ook hoekom mense na die DA begn verwys het as die “ANC-lite” (afgewaterde weergawe van die ANC).

Dalk is ek heeltemal verkeerd, maar dis hoe dit lyk van waar ek staan.

Die feit van die saak is dit:

Wit en swart (in hierdie land) se verwagtinge is so ver uitmekaar dat hulle nog nie die “middel-grond” gevind het nie.

Ek het altyd gedink die DA is die “middel” van die SA politieke landskap, maar Maimane se rigting die afgelope paar jaar het my laat twyfel.

En noudat hy bedank het, en Mashaba saam met hom (en al die reaksies rondom dit…), is dit duidelik dat die “middel” nie “in die middel” is nie.

Alhoewel ek persoonlik nie met Maimane se rigting saamstem nie, het hy dalk ‘n punt beet wanneer hy se die DA is nie meer “die party in die middel” nie.

Maar tot tyd en wyl daar iets beter verbykom – en vele ander het al probeer – is die DA die naaste aan dit wat ons het. En daai feit alleen is genoeg om hul voorbestaan te verseker.