Mis ons die punt oor Maimane se huis?

Gister was dit skielik groot nuus – Maimane (DA) het die huis waarin hy woon verklaar (aan die parlementere bestuur). Die huis is egter nie sy eie nie, maar hy huur dit van ‘n vriend.

Eers het almal op- en afgespring omdat hy dit verklaar het. En toe wil hulle weet hoeveel sy huur is…

Maar almal mis die werklike punt:

Hy het weggetrek uit die parlements-dorpie uit omdat hy gevoel het sy gesin is in gevaar.

Is niemand gepla oor die feit dat ons land se leiers nie veilig is nie? Ongeag of mens saamstem met enige pesoon se politieke idiologie of nie…

Foto van Maimane vanaf Wikipedia – gelisensieer as CC S/A

In die parlements-dorpie is almal veronderstel om veilig te wees sodat elkeen sy/haar volle aandag aan hul werk kan gee.

Hy het die staatshuis verniet gekry, en nou moet hy huur betaal. Selfs al betaal hy die helfte minder as markwaarde, is dit nog steeds ‘n merkbare duikie in sy inkomste elke maand – wat nie nodig moet wees nie.

Sy staats-behuising is deel van sy vergoedings-pakket. Hy is geregtig op dit.

Maar soos dit so tipies in ons landjie met sy kleinlike mense gaan…

Is ons meer gepla oor of hy iets verkeerd gedoen het, as hoekom hy dit gedoen het.

Ons is meer gepla oor hoekom hy die huis verklaar het as die feit dat sy familie doods-dreigemente en intimidasie in die gesig gestaar het.

Hoekom is daar niks aan dit gedoen nie? Hy het al in 2017 uitgetrek, so daar was regtig genoeg tyd om die sekuriteit op te knap. En nou sal hy seker weer trek, want een of ander oorywerige joernalis en uitgewer het ‘n foto van die huis gepubliseer.

Dit lyk my ons het een groot probleem in hiedie landjie van ons…

Ons sal eerder kyk na die splinter in die buurman se oog as die balk in ons eie. Oftewel, ons sal eerder knaend op klein onbenullige goedjies pik as om die werklike probleem aan te spreek.

Sover dit Maimane se huis aangaan…

Almal mis die punt – weereens.

G’n wonder ons sukkel so om die land se probleme te bowe te kom nie. Ons fokus is op die verkeerde plek.

Dalk moet ons ophou kyk na die klein goedjies wat verkeerd is, en begin dink aan oplossings vir die groot goed. Ek glo daar is miljoene arm en sukkelende mense wat saam met my sal stem.