Omtrent

Wel…

Omtrent hierdie blog:

As iemand wat baie dinge ervaar het oor baie jare, en baie dinge gesien het in baie plekke, is hierdie blog ‘n reaksie op dinge war rondom ons gebeur.

Hopelik met ‘n tikkie humor hier en daar – want as mens ophou lag, is die lewe leeg.

Omtrent myself…

Niemand besonders nie. 50+, geen besonderse kwalifikasies nie, en geen nalatenskap van enige noemenswaardige afmetings nie.

Baie jare se op-en-af, in baie verskillende plekke, saam met baie verskillende mense, het my baie dinge geleer…

En dit het my opinies geskuur en geskaaf totdat dit baie anders lyk as 20 en 30 jaar gelede.

Aan die een kant is ek krities oor wat gebeur in ons land, maar aan die ander kant is ek ook ‘n realis. Ek besef dat baie dinge nooit weer sal wees soos ons dit graag wou he nie – ten minste nie in my leeftyd nie. Baie dinge sal seker ook nie in my tyd wees soos wat dit veronderstel is om te wees nie.

Ons land se leiers – of ons daarvan hou of nie – kan nie gister se planne vandag toepas nie. Vandag het sy eie probleme, en benodig planne vir vandag. In die proses bly sekere van gister se planne – en beloftes – in die slag.

Hoe ouer ek word hoe meer besef ek dat – ongeag of dit geregverdig is – ontoegeeflike standpunte ons nerens gaan bring nie.

Soos Oprah gese het: “Doen wat jy kan met wat jy het. Wanneer jy beter kan doen, dan doen jy beter.”

Ons moet maak doen met wat ons het – en langs die pad probeer om begrip te he vir die volgende persoon.

Maar…

Dit beteken nie ons moet als aanvaar wat na ons kant toe gegooi word nie. Dit beteken nie ons moet stilbly nie – want solank ons stilbly, sal dit altyd dieselfde wees.

Mag ek dan een van die knaende stemme wees wat voortdurend aandag vestig op dit wat verkeerd is, en waaraan nog moet gewerk word. En hopelik een wat so af en toe ‘n ander perspektief na die tafel toe bring.

Pieter