SA misdaad – ‘n langtermyn perspektief

Die misdaad statistieke vir die afgelope jaar is pas bekendgemaak. En daar is twee dinge wat uitstaan…

1. Ons misdaadsyfers is steeds onaanvaarbaar hoog. Belaglik hoog vergeleke met ontwikkelde lande. Skrikwekkend hoog vir ons wat hier moet bly.

2. Wiskundig gesproke, is een van ons misdaadsyfers heelwat beter as wat dit in 2010 was.

Geskok?

Kom ons doen die wiskunde:

In 2010 was ons bevolking 51.6 miljoen. Huidiglik is dit sowat 58.7 miljoen. Dis ‘n aanwas van slegs sowat 14% oor die afgelope dekade. As sulks beteken enige vermeerdering van 14% dat die misdaad per kapita nog dieselfde is, enige iets minder is ‘n verbetering, en enige iets meer is werklik meer.

Ons het nie amptelike syfers vir die aantal onwettige immigrante nie, so kom ons laat hulle buite rekening vir nou. As ons hulle in berekening gebring het, sou die wiskunde self beter gelyk het.

So…

Kom ons kyk na ‘n paar basiese syfers:

1. Moord het met 25% toegeneem sedert 2010. Ek mag verkeerd wees, maar ek dink die bendegeweld op die Kaapse vlaktes is verantwoordelik vir baie van dit. Volgens beskikbare syfers lyk dit asof Kaapse bendegeweld enige iets tussen 2500 en 3000 moorde per jaar bydra.

Neem dit weg uit die berekening, en dit lyk skielik heel anders. Ongelukkig is dit – vir die mense op die Kaapse vlaktes – nie moontlik om die weg te laat uit hul lewens nie.

2. Seksuele misdade het met sowat 22% gedaal sedert 2010. Gesien teen die populasie aanwas – in 2019 is jou kanse om seksueel aangerand te word 1 uit 1119. In 2010 was dit 1 uit 773. Dis ‘n merkbare verbetering – ongeveer 44%.

3. Roof met verswarende omstandigdhede het gestyg met sowat 24% – dus is dit 10% meer per kapita met inagneming van die bevolkings-aanwas.

Die feit dat die syfer bly styg is kommerwekkend.

4. Motorkampings het – sedert 2010 – toegeneem met 15.7% – dus 1.7% meer as die verwagte toename a.g.v. groei in populasie.

Mens sou dink dat, gegewe al die moderne tegnologie en middele teen voertuigkapings, hierdie syfer beter sou wees.

As mens dit egter sien teen die agtergrond van die toename in gevalle van roof met verswarende omstadigdhede, dan is dit seker te verwagte.

Dieselfde geld dan ook vir rooftogte by residensiele persele, wat gestyg het met 19% – 5% meer as die bevolkings-aanwas.

Gevolgtrekking…

A mens kyk na die moordsyfers op die Kaapse vlaktes, rooftogte en motorkapings, is dit duidelik dat daar minder ontsag is vir die gereg as in 2010.

Daar is rede om dankbaar te wees vir die merkbare vermindering in seksuele misdade oor die afgelope dekade, maar…

Ek hoop regtig nie dat dit bloot so is omdat minder mense klagtes indien nie. Gesien teen die agtergrond van die ander gewelds-misdade is dit ‘n moontlikheid – veral as mens kyk na hoe vroue behandel word wanneer hulle sulke sake aanhangig maak.