Tolgeld om huistoe te stap

Ek bly nie ver van die middedorp af nie – so tien minute se loop. En synde dat ek meeste van my lewe voor die neukenaar deurbring, het ek elke bietjie oefening nodig (stres oor aanlyn goed wat nie werk nie, tel nie a oefening nie…:).

Maar nou raak die tolgeld op pad huistoe darem te erg…

Vandag is ek deur vier mense gestop tydens my tien-minute lopie. Almal soek geld of kos.

Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek gee waar ek kan. Met ‘n 30% werkloosheidsyfer is dit fisies onmoontlik vir almal om te werk, so die ou benadering van “gaan werk vir jou geld” is nie meer van toepassing nie.

Die ander ou benadering van “dis nie my probleem nie” werk ook nie meer nie. Desperate mense word gedryf na misdaad. En misdaad word almal se probleem – selfs al steel niemand van jou nie, word jou versekerings-premies meer.

Maar terug na die tolgeld op pad huistoe…

Wanneer ek het om te gee, dan gee ek. En dis nie altyd nie. As sulks vestaan die plaaslike haweloses dat, wanneer ek die dag nie kan gee nie, dan kan ek nie.

Of so het ek gedink…

As dinge nou so erg raak dat jy "tolgeld" moet betaal om huistoe te mag LOOP... dan is dit erg. #afrikaans #suidafrika #suidafrikaans #praatafrikaansMaar vandag wil nie een van hulle skielik nee vir ‘n antwoord aanvaar nie. Twee van hulle wat saam loop, het oor die pad na my toe gekom, en wou nie ophou nie – maak nie saak hoeveel keer ek se “jammer, nie vandag nie”. Hulle het saam met my bly loop en aangehou. Uiteindelik het ek begin bekommerd raak – wat as die twee manne nou regtig nie nee vir ‘n antwoord wil vat nie? Op my ouderdom dink ek nie ek sien kans vir altwee nie. En daar waar dit gebeur het, was nou nie regtig dig bevolk nie.

Toe gee ek een van hulle ‘n brood, en stap verder.

Maar agter my hoor ek die tweede een vra “nou wat van my, meneer?”

Slim slenter. Ek het al vir daai “ons is saam, maar ons is nie saam nie” een geval in die verlede. Die feit dat hulle soos ‘n tweeling lyk het egter nie sy saak veel gehelp nie.

Maar dit was nog nie die einde nie…

Kort na ek by my blyplekkie aangekom het, begin een roep voor my hek…

Een van die vir wie ek nee gese het. Duidelik was sy ook nie van plan om nee vir ‘n antwoord te vat nie.

So – wiskunde…

As ek elke keer op pad dorp toe vir elkeen ‘n brood moet gee, is dit sowat R400 per maand. En dit sluit nie die kere in wat ek stap om ‘n rekening te gaan betaal nie.

Tussen die huidige lewenskostes, my eie beperkte inkomste, en ma se mediese uitgawes, is dit nou nie regtig geld wat ek het om rond te gooi nie.

Maar as iemand anders besluit jy moet gee, dan MOET jy gee.

Tolgeld.